Hawkingstraling is die teoretiese termiese straling van 'n swartstraler wat buite 'n swartkolk se waarnemingshorison vrygestel word. Dit druis teen die intuïsie in, want as gewone elektromagnetiese straling eers binne die waarnemingshorison is, kan dit nie ontsnap nie.
Die straling is genoem na die fisikus Stephen Hawking, wat in 1974 'n teoretiese argument vir die bestaan daarvan ontwikkel het.[1] Die Hawkingstraling is vermoedelik baie flou en kan glad nie deur huidige teleskope waargeneem word nie.
Hawkingstraling verminder die massa en rotasie-energie van swartkolke en veroorsaak dus teoreties dat hulle verdwyn. Swartkolke wat nie op 'n ander manier massa versamel nie, sal dus vermoedelik krimp en eindelik nie meer bestaan nie. Dit sal uiters stadig gebeur by alle swartkolke behalwe die heel kleinstes. Die stralingstemperatuur is omgekeer eweredig aan dié van die swartkolk se massa;[2]:176–177 mikroswartkolke sal dus vermoedelik meer straling vrystel en gouer verdwyn.[3]